Translate

Wednesday, May 1, 2013

Rooster dit gaar

Rooster

Die heerlike geur van geroosterde vleis laat nog altyd my mond water. Dink maar aan daardie heerlik oondgeroosterde skaapboud wat ouma op ’n Sondagmiddag voorberei en die hele kombuis vul met al die heerlike geure.

Rooster is een van daardie metodes wat nie net skadelike bakterie doodmaak tydens die gaarmaakproses nie, maar ook die kos meer aantreklik laat lyk. Weereens verwys ek na daardie pragtige goudbruin kleur van ouma se skaapboud of heerlike bruin geroosterde aartappels met ’n krakerige buitekant en sagte vleis.

Geroosterde geregte word gaargemaak deur die kos te kook in droë hitte en ’n bietjie vet of olie by te voeg. Twee maniere word normaalweg gebruik om geroosterde geregte gaar te maak en die oond of ’n spitbraai kan hiervoor ingespan word.

Dit is belangrik dat daar nie met ’n mes of vurk deur die seël wat gevorm het gesteek sal word en so die seël breek en al die natuurlike sappe verloor nie. Die seël vorm gewoonlik aan die begin van die proses wanneer hoë hitte toegedien word. Nadat die seël gevorm het word die hitte dan verminder en die kos gelos om gaar te word sonder om die kos uit te droog.

Die mees algemeenste vorm van rooster gaarmaak is sekerlik in die oond. Konveksie oonde word gewoonlik gebruik omdat die hitte eweredig deur die oond versprei word en die kos egalig gaar raak. Kos word gewoonlik op ’n roosterplaat geplaas met die byvoeging van so bietjie vet of olie. Die metode kan soms so bietjie van mekaar verskil afhangende van die behoefte om olie en die roosterpan eers te verhit en of jy dit sommer net so gebruik.

Dan is daar natuurlik ook die spitbraai of spit rooster metode. Dit gaan gewoonlik hand aan hand met ’n groot item, soos ’n lam, vark of hoender wat heel gaargemaak word. ’n Spitbraai kan gehou word deur die kos gaar te maak op ’n oop vuur of elektriese of gas elemente wat verhit word en die hitte vrystel. Die item wat gespit word roteer deurentyd in die rondte en so word eweredige gaarmaak verseker.

Geroosterde geregte gaan gewoonlik gepaard met unieke tegnieke.
·         Met vulsel
Die item wat gerooster word, word gewoonlik gevul met enige iets van groente, vrugte of selfs maalvleis. Die belangrikste om hier te onthou is dat die vulsel behoorlik gaar is voordat dit bedien word. In sommige gevalle kan jy selfs die vulsel apart gaarmaak. Dit alles sal afhang van die resep.
·         Opbinding
Voorheen het ons reeds na die tegniek verwys en opbinding word gewoonlik aangetref by pluimvee soos hoender, eend of kalkoen. Dit verseker kompaktheid en so word kos eweredig gaar. Dit verbeter ook voorkoms by opdiening en help dat jou eindproduk mooier vertoon.
·         Vasbind
Die tegniek word gewoonlik gebruik om vleis vas te bind sodat vorm behou kan word, en die beste voorbeeld is vleis wat ontbeen is. Soos ek reeds voorheen gesê het is ouma se heerlike Sondagmiddag rolrib die ideale voorbeeld vir die toepassing van die tegniek.
·         Bedruip
Tydens die rooster proses smelt van die interne vet as’t ware en vloei uit die vleis uit. Deur gedurende die gaar word proses die vet en natuurlike sappe van die vleis weer met ’n lepel oor te drup sit die vogtigheid weer terug in die vleis en verhoed dat dit te droog word. Dit kan selfs ook met ’n marinade gedoen word.
·         Laat rus voordat jy dit opsny
Die van ons wat al vleis probeer sny het wat pas uit die oond kom, sal weet waarvan ek praat. Dit is beslis nie die maklikste taak onder die son nie. Nee, die beste is maar om dit eers vir so rukkie, ongeveer 20 minute of so te laat rustig staan en afkoel sodat die weefsel weer kan terugkeer na hul oorspronklike vorm, en dan te sny.

Twee metodes kan ook aangewend word om die vleis te seël.
·         Plaas die vleis in ’n baie warm oond sodat die hitte van die oond dadelik die vleis kan seël en dan kan die hitte verminder word om die vleis gaar te maak.
·         Seël die vleis bo-op die stoof deur eers te braai en dan in die oond verder te rooster.

Geroosterde skaapboud

2 kg skaapboud
6 takkies roosmaryn (opgebreek in kleiner stukkies)
30 mℓ olyfolie
Sout en vars gemaalde swart peper
30 mℓ meel
150 mℓ rooiwyn
300 mℓ lams aftreksel
250 g varkspek
20 rosyne (afhangende van eie voorkeur)

Metode:
1.       Voorverhit die oond tot 220 ̊C
2.       Lardeer die boud met roosmaryn, varkspek, rosyne (maak snye met ’n mes in die vleis en gebruik jou vinger om die gaatjies effens te rek sodat jy dit kan vul met die roosmaryn, varkspek en rosyne)
3.       Voorverhit ’n swaarboom pan en seel die skaapvleis deur aan weerskante te braai tot goudbruin.
4.       Plaas in ’n roosterpan en sprinkel met olyfolie, sout en peper en rooster vir ongeveer 20 minute.
5.       Verminder die hitte tot 180 ̊ C en rooster verder vir ongeveer 1 uur of tot gaar.
6.       Haal die vleis uit die oond en laat rus.
7.       Skep 45 mℓ van die vleissouse uit die pan. Meng die meel, wyn en aftreksel en prut vir ongeveer 10 minute totdat verdik en bedien saam met die vleis.

Geroosterde Mediterreense groente
150 mℓ olyfolie
½ suurlemoen
6 takkies vars tiemie
450 g klein baba aartappeltjies
1 eiervrug, in blokkies gesny
1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
8 groot knoffel huisies, ongeskil
Klein beet in skyfies gesny
Botterskorsie in blokkies gesny
Sout en peper na smaak

Metode:
1.       Voorverhit die oond tot 200 ̊C
2.       Meng alle groente saam en sprei uit op ’n roosterpan
3.       Sprinkel met olyfolie en geur met sout en vars gemaalde swart peper.
4.       Rooster in die oond vir 30 – 50 minute terwyl jy dit van tyd tot tyd roer en omdraai om te verseker dat dit nie brand nie en eweredig gaar word.

Die meeste groente kan gerooster word en jy kan byvoeg of weglaat na gelang van jou persoonlike voorkeur.

Geroosterde aartappelwiggies
 6 middelslag aartappels
30 – 60 mℓ olyfolie
Sout

Metode:
1.       Voorverhit die oond tot 200 ̊C
2.       Was die aartappels skoon en sny in wiggies
3.       Droog elke wiggie af met ’n papier handdoek en plaas in plastieksak.
4.       Sprinkel olyfolie oor en rol die aartappels in die sak sodat almal met ’n lagie olie bedek is.
5.       Plaas in ’n enkel laag op ’n roosterplaat en rooster in die oond vir ongeveer 40 minute terwyl jy dit omdraai halfpad deur die rooster tyd. Hou maar ’n ogie op die aartappels omdat oonde verskil en te verseker dat dit nie brand nie.
6.       Haal uit die oond wanneer die aartappels sag in die binnekant en goudbruin aan die buitekant is.
7.       Skep in ’n opdienbak en sprinkel sout oor.