Translate

Saturday, March 9, 2013

Posjeer


Posjeer

Die algemeenste voorbeeld van posjeeering is seker die geposjeerde eier wat ons almal so goed ken, maar tog so bang voor is. Of is dit nou net ek? Die terme posjeer verwys daarna om iets te plaas in ’n vloeistof wat gekook het en dan tot onder kookpunt te verlaag tot dat dit slegs baie matig prut. Die gaarmaakmetode verander die tekstuur van die bestanddeel wat daarin geplaas word.

Kos kan geposjeer word in enige vloeistof, of dit nou water, melk, aftreksel of selfs wyn is.  Die idee van dit in die kokende vloeistof te plaas is om dit so gaar te kook en dan met die geur van jou vloeistof te vul. In sommige gevalle word die vloeistof as ’n sous in die eindproduk gebruik. Dink ons byvoorbeeld aan geposjeerde pere of vis, waar die vloeistof waarin dit geposjeer is as die basis van die sous dien.

Dit is belangrik dat jy ’n redelike wye pan sal gebruik wanneer jy iets posjeer. Dit verseker nie net dat jou bestanddele teen dieselfde vlak geposjeer word nie, maar dit verskaf ook genoeg beweegruimte aan jou Om jou items in Te plaas, Te beweeg en dan weer later Te verwyder.

Daar is twee metodes wat gevolg kan word wanneer jy iets wil posjeer.

·         Die eerste metode is deur gebruik te maak van ’n vlak hoeveelheid vloeistof. Gewoonlik gaan die vloeistof dien as jou sous aan die einde van die kookproses. Eerstens word die kos gekook in die vlak vloeistof waarna dit dan in sommige gevalle verder geplaas word in ’n medium oond van ongeveer 170 ̊C tot 180 ̊C. Die temperatuur sal die vloeistof dan net onder kookpunt hou en so jou kos gaarmaak.

·         Die tweede geval is wanneer bestanddele geplaas word in ’n diep vloeistof. Dit is gewoonlik die metode wat gebruik word wanneer eiers geposjeer.

Daar is natuurlik ook ’n paar wenke, of liewer tegnieke wat jou sal help om die beste resultate te kry.

·         Eweredig gesnyde dele

Dit is belangrik dat die kos wat jy wil posjeer in eweredige dele gesny sal wees. Deur dit te doen verseker jy dat alles gelyk sal gaar word .

·         Bind dit saam

Deur wat jy posjeer saam te bind in ’n pakkie beteken dat dit vorm sal behou en makliker hanteerbaar sal wees.

·         Vou dit

Deur soms die kos te vou en dan vas te bind help dat jy so pakkies van gelyke dele kan skep wat teen dieselfde tempo sal kook.

·         Dreinering

Dit is sekerlik een van die belangrikste punte om na op te let wanneer jy iets posjeer. Maak seker dat kos goed gedreineer en droog sal wees voordat jy dit bedien. Indien kos nie behoorlik gedreineer is nie kan jy probleme verwag wanneer jy opdien. Indien jy byvoorbeeld dit met ’n sous bedien sal die sous verdun, of self skei van die posjeerings vloeistof.

·         Verminder die sous

Somtyds kan dit dien as die basis van jou sous. Dit kan jy verkry deur die vloeistof eers deur ’n sif te gooi sodat jy van alle deeltjies ontslae kan raak wat jy nie in jou sous wil hê nie en dan die vloeistof vinnig te kook.

Een van die grootste geheime om te onthou wanneer kos geposjeer word, is die feit dat geposjeerde kos baie delikaat is en dat dit belangrik is om baie versigtig te wek te gaan en so alles in goeie kondisie behou anders kan jy dalk met ’n groot gemors ophande sit.

Posjeer ’n eier

Die belangrikste om te onthou wanneer jy met eiers werk is dat die eiers baie vars moet wees. Gewoonlik nie ouer as vier dae is die beste. Hoe ouer jou eier is hoe meer loperig sal die wit wees en dit kan gebruik word as ’n goeie aanduiding.

Eerstens moet jy seker maak dat jy ’n groot genoeg posjeer pan gebruik wat jy tot so ongeveer 2.5 cm kan vul met kokende water. Hoe maklik is dit nie.

Laat die water op die stoof toe om oor matige hitte baie liggies te kook.

Breek nou jou eier baie versigtig oop in ’n beker. Dit sal verseker dat jy eers kan sien of die eier vars is of nie. Plaas dit dan baie versigtig in die water en laat dit vir een minuut sonder a deksel kook.

Dit is belangrik om jou horlosie dop te hou, omdat jy nie ’n minuut wil raai nie en akkuraat hier met tyd wil werk.

Verwyder nou die pan versigtig van die hitte en laat staan vir 10 minute. Die water sal nou rustig jou eier verder gaarmaak, en die feit dat daar nie aggressiewe borrels is nie, verhoed dat die eier beskadig word.

Na tien minute verby is, kan jy die eiers baie versigtig verwyder vanuit die water met ’n gaatjies lepel en bedien.

Die perfek geposjeerde eier is wanneer die eierwit ferm is met steeds ’n sagte geel.

’n Ander metode is om water in ’n pan te plaas en dit te laat kook. Voer roer bewegings met ’n lepel uit in die water. Deur dit te doen sal die wit die geel omring wanneer dit in die kokende water geplaas word. Die byvoeging van ’n bietjie asyn by die kokende water sal ook help met die proses en is ’n wenk wat jy gerus maar kan onthou. Nadat die eier nou voldoende gekook is, kan jy dit uit die water verwyder met ’n gaatjies lepel sodat al die vloeistof sal afloop en dit bedien.

Enige van die twee metodes kan gebruik word na gelang van wat jy die maklikste vind.

Rooiwyn pere
Hierdie is beslis een van my gunsteling resepte. Daar is net iets tussen rooiwyn en pere wat onweerstaanbaar is en met ’n bietjie sitrus, kaneel en naeltjie gemeng sal dit sorg vir ’n ongelooflike ervaring.

Bestanddele:
4 pere
Sap van een suurlemoen
1 kaneelstokkie
400 mℓ rooiwyn
75 mℓ strooisuiker
1 naeltjie
5 mℓ mielieblom

Metode:

1.       Verwyder die skil van die pere. Vir die doel kan jy sommer ’n groenteskillertjie gebruik . Laat die stronk en steeltjie aan. Dit verskaf ’n natuurlike voorkoms wanneer jy die pere bedien.

2.       Sny stukkies van die lemoenskil en voeg dit saam met die kaneel, naeltjie, wyn, suurlemoensap en strooisuiker in ’n kastrol.

3.       Verhit tot by kookpunt waartydens jy dit roer totdat die strooisuiker opgelos is.

4.       Plaas die pere by die kokende mengsel en sit die deksel op.  Maak seker dat die pere bedek is met die vloeistof anders kan jy dit van tyd to tyd draai sodat dit ’n egalige voorkoms het.

5.       Verminder die hitte sodat die vloeistof prut vir ongeveer 35 minute of totdat die pere sag is.

6.       Wanneer die pere gereed is, kan dit van die wynmengsel verwyder word met ’n gaatjies lepel om seker te maak dat dit nie onnodige sous saamneem nie omdat jy die sous later apart gaan bedien. Maak ook seker dat jy die naeltjie, kaneelstokkie en lemoenskil stukkies verwyder.

7.       Nadat die die pere van die wynmengsel verwyder is, kan jy weer die wynmengsel verhit en die mielieblom wat vooraf gemeng is met ’n bietjie water daarby roer.

8.       Kook nou alles saam totdat die sous begin verdik.

9.       Skep die sous op ’n bordjie. Plaas die pere bo-op en bedien met styf geklitste room of jogurt en ’n paar ment blaartjies vir daardie ekstra spesiale voorkoms.

Geposjeerde vis
Bestanddele:
1 lourier blaar
Sout en pepper na smaak
30 mℓ vars suurlemoensap
250 mℓ droë wit wyn
1 groot ongeskilde knoffelhuisie
2 vis fillets
Water

Metode:

1.       Gebruik ’n groot genoeg pan waarin jy al die bestanddele kan plaas en genoeg beweegruimte vir jou laat om te werk.

2.       Vul die pan nou met genoeg water om die vis te bedek. Gebruik genoeg water dat die helfte van die water bo die vis sal wees.

3.       Voeg nou alle bestanddele by jou water en verhit tot kookpunt.

4.       Verlaag die hitte sodat die vloeistof net sal prut en al die geure vrygestel word.

5.       Plaas die vis versigtig in die vloeistof en laat matig prut vir ongeveer 10 minute of totdat dit gaar is.

6.       Vis kan getoets word om te sien of dit gaar is of nie wanneer dit tot ’n soliede wit kleur verander en die oorspronklike deursigtige voorkoms verloor en ook maklik gevlok kan word met ’n vurk.

7.       Wanneer die vis gaar is verwyder versigtig vanuit die vloeistof met ’n spaan sodat alle oortollige vloeistof sal terug in die pan gaan en die vis droog is.

8.       Die beste metode vir die bediening van geposjeerde vis is met ’n sous. Gebruik ’n sous van jou keuse hetsy ’n wit sous, pietersielie sous ok wynsous en bedien met rys.

Ek hoop dat die resepte jou heerlike genot die week gaan verskaf.

Onthou dat indien jy ’n vriend of vriendin het wat jy voel deel sal wil word van Die Vet Sjef vriendekring kan jy gerus hul kontakbesonderhede aan my stuur sodat ek hul kan hartlik uitnooi.

Stuur ook gerus daardie heerlike resepte vir ons wat jy jou gesin mee bederf en ek deel dit met ons ander lesers.

Vriendelike groete

Die Vet Sjef


 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment