Translate

Sunday, March 17, 2013

Stoom


Stoom

Die stoom proses word gesien as ’n baie gesonde metode van gaarmaak. Kos word gaargemaak deur ’n byproduk wat vrygestel word wanneer vloeistof gekook word. Die byproduk word stoom genoem, en as gevolg van die hoë temperature maak dit alle skadelike bakterie dood en maak die kos gaar. Die tekstuur van die kos verander ook en maak dit meer aangenaam om te eet.

Die metode word verder gesien as een van die beste metodes om kleur en voedingstowwe te behou in groente, omdat dit nie uitgewas word deur die warm water waarin dit lê wanneer dit gekook word nie.

Daar is ’n hele paar verskillende metodes wat gevolg kan word om by die eindproduk uit te kom.

·         Atmosferiese of laedruk- stoom

Kos word gaargemaak deur die stoom van die kokende vloeistof deur of direk in kontak met die stoom te wees of indirek. Die houer waarin die kos geplaas word, is geseël sodat daar nie van die stoom ontsnap tydens die proses nie. ’n Voorbeeld hiervan is wanneer water in ’n pan geplaas word met ’n rakkie bo-oor. Die rakkie word so geplaas dat die kos nie in aanraking met die water is en dit eerder gekook as gestoom word nie.

·         Hoe druk stoom

Hiervoor benodig jy ’n hoë druk stomer (Stoompot). Die druk binne die stomer verhoog en so ook die temperatuur wat dan help met die gaarmaakproses. Vandag kry on selfs die elektriese weergawe van die stoompot en beslis die moeite werd om in te belê.

Die meeste kosse is geskik om in die vorm van stoom gaargemaak te word en sluit in die meeste groente, vis en sponspoedings.

’n Paar basiese tegnieke kan ook help om jou lewe soveel makliker te maak.

·         Maak seker dat die houer of vorm wat jy gaan gebruik in goeie toestand is.

·         Wanneer jy vormpies gebruik smeer die binnekant goed met olie of vet om te verseker dat die eindproduk maklik uit die vormpie sal kom.

·         Maak seker dat die vormpies eweredig gevul is.

·         Wanneer jy ’n gereg maak, soos gestoomde poeding wat bedek word met papier of foelie is dit belangrik om seker te maak dat dit genoeg spasie laat vir wanneer die poeding uit sit en rys.

·         Wanneer meer as een item gaar gestoom word soos byvoorbeeld meer as een vormpies poeding, help dit wanneer die vormpies met gelyke hoeveelhede gevul sal wees, omdat dit sal verseker dat dit eweredig en gelyk kook.

·         Werk baie versigtig met stoom toerusting en gedurende die stoom proses omdat die stoom wat gevorm is van baie hoë temperature is en die vel sal brand.

Gestoomde groente:

Soos voorheen genoem is stoom een van die gesondste manier om groente gaar te maak. Baie meer van die voedingstowwe bly behoue asook kleur, wat dit net soveel meer aanloklik maak om te eet.

Die meeste groentesoorte kan gestoom word, waarvan die beste eindresultate kom van wortels, blomkool, spruitkool (broccoli), aspersies, Brusselse spruite, ertjie en artichokes.

Sny jou groente in kleiner dele, sodat die stoom proses aangehelp kan word en die groente vinniger gaargemaak kan word as wanneer daar groter dele is wat sal langer neem om te stoom. Nadat die groente gereed is, kan jy dit van die pot verwyder en in yswater plaas. Dit sal help om die gaarmaak proses te stop en steeds jou groente daardie krakerige tekstuur besorg. Maak net seker dat jy dit nie yskoud bedien nie en verhit dit so bietjie voor opdiening.

Die ontdekking van mikrogolfoonde het weereens ons lewe net soveel makliker gemaak en hoef groente nie meer net op die stoof gestoom te word nie. Natuurlik neem dit ook net ’n paar minute selfs op die stoof. Al wat jy nodig het, is ’n glasbak geskik vir die mikrogolf en kleefplastiek. Plaas die groente binne die bak en maak toe met die plastiek. Laat ’n klein hoekie van die bak oop sodat bietjie van die stoom ontsnap om ’n ontploffing te voorkom.

Dit neem gewoonlik nie meer as 5 minute om groente gaar te stoom nie, maar sal afhang van die soort groente gebruik en hoe dik die stukkies is.

Ek het dit goedgedink om so bietjie van ’n aanduiding hier te gee.

Blomkool                     6 min

Groenboontjies           5 min

Spruitkool (Broccoli)   5 min

Aspersie                      4 min – 6 min (afhangende van dikte)

Brusselse spruite         10 min

Wortels                       6 min – 8 min (afhangende van die dikte)

Groenboontjies           5 min

Ertjies                          3 min

Gestoomde vis

Vis droog vinnig uit en verloor sy delikate geur ook baie gou wanneer dit nie korrek voorberei word nie, en daarom is die sekerlik een van die beste metodes om vis gaar te maak. Vis kan wel deur ’n verskeidenheid metodes gaargemaak word.

Suurlemoen gestoomde Vis:

4 wit vis filette (Stokvis (“Hake” ) of enige ander ferm wit vis)

1 ui fyngekap

62.5 mℓ gekapte pietersielie

5 mℓ vinkel fyn gekap

15 mℓ paprika

30 mℓ suurlemoensap

Sout en peper na smaak

Metode:

·         Plaas visfilette op ’n vierkantige stukkie foelie, groot genoeg om die filette in toe te vou.

·         Sprinkel filette met res van die bestanddele

·         Vou die foelie toe sodat dit ’n pakkie sal vorm

·         Plaas in die oond en bak teen 180  ̊C vir 30 min

Die feit dat die fillet toegedraai is in die pakkie sal veroorsaak dat die stoom nie kan ontsnap nie en die filette gaarmaak.

Gestoomde Zulu Brood (ujeqe)

2 ½ koppies koekmeel

1 dessertlepel suiker

Genoeg warm water sodat ’n deeg gevorm kan word.

2 t droë kits suurdeeg

Knippie sout

Olyfolie / margarien (om die sak mee te smeer)

Metode:

·         Meng al die bestanddele saam en laat staan op ’n warm plek sodat dit kan rys.

·         Neem ’n winkel plastieksak en smeer dit goed met olyfolie aan die binnekant (jy kan ook margarine gebruik).

·         Nadat die deeg behoorlik gerys het plaas jy dit binne die plastieksak en knoop dit toe.

·         Sit nou die sak binne-in ’n pot met kokende water bo-op ’n waaier stomer of selfs net ’n draadrakkie wat pas binne-in ‘n pot en verhoed dat die deeg in die water staan.

·         Laat die water kook vir ’n uur en kyk van tyd tot tyd dat die pot nie droog is nie.

·         Na ’n uur kan die brood getoets word deur ’n mespunt of stokkie daarin te druk en te kyk of dit skoon uitkom

Eet gerus die heerlike eg Suid Afrikaanse brood saam met ’n stew of sop.

Gestoomde poeding

Om te onthou

Eerstens moet vorms met digte deksels, wat hitte bestand is gebruik word om die poeding in te stoom. Indien jy nie sulke vorms het nie kan enige vorm gebruik word en kan jy dit bedek met ’n dubbele laag waspapier of aluminiumfoelie wat styf vasgebind is met ’n tou sodat die stoom binne sal bly.

Smeer die binnekant van die vorm asook die deksel behoorlik met botter. Dit help dat die poeding maklik uit die houer sal kom.

Vul die houertjies net twee-derdes met die beslag. Dit is belangrik, omdat die poeding nog gaan rys terwyl dit gestoom word.

Plaas die houertjie binne-in ’n pot met kokende water en maak seker dat die houertjie ongeveer halfpad in die kokende water staan.

Laat die water slegs prut en maak seker dat jy voortdurend ’n ogie hou sodat dit nie droogkook nie.

Plaas die deksel van die pot op sodat die stoom en die hitte binne kan bly.

Wanneer die poeding gaar is, kan jy dit vir ’n paar tellings in koue water plaas en die houer dan omkeer sodat dit maklik sal uitkom.

’n Wenk is om die gestoomde poeding net so rukkie weer in die oond te plaas sodat dit ’n bietjie drooggemaak kan word teen die kante.

Vinnige gestoomde poeding

125 mℓ koekmeel

30 mℓ suiker

30 mℓ bakpoeier

1 eier

Melk sodat bestanddele gemeng kan word tot ongeveer ’n pannekoek beslag

15 mℓ goue stroop

15 mℓ botter

Metode:

Smelt die botter en goue stroop saam en gooi aan die onderkant van die houer.

Meng die res van die bestanddele goed saam totdat ongeveer ’n pannekoek deeg gevorm word en gooi in die houertjies.

Plaas die die houertjies in a groot genoeg pot en vul halfpad met kokende water. Dit is nie nodig om dekseltjies bo die houertjies te plaas nie, maar plaas die deksel van die pot op.

Stoom vir ongeveer 30 min of tot gaar.

Bedien met vla, ’n sous van jou keuse of room.

Die is net ’n basiese resep en kan met verskeie variasies aangepas word.

Wel, liewe vriende ek hoop dat daar sommer baie lekker gestoom gaan word die week totdat ons weer gesels.

Onthou, stuur aan ons daardie heerlike resepte wat jy by die huis kook en hou ons op hoogte van wat in jou kontrei gebeur.

Kook liefde

 

Die Vet Sjef


 

No comments:

Post a Comment