Translate

Monday, March 25, 2013

Gestoofde geregte (Stews)


Gestoofde geregte (Stews)

Gestoofde geregte word berei deur die proses van bestanddele stadig in ’n vloeistof te kook. Die vloeistof word gewoonlik ook bedien as ’n sous saam met die gereg.

Die meeste kosse kan deur die metode gaargemaak word soos byvoorbeeld vleis, vis, groente en vrugte.

Die proses is ’n stadige manier van kook en daarom kan goedkoper stukke vleis gebruik word wanneer jy ’n vleis stew maak.

Hoe werk die proses? Kom ons neem ’n vleis gebaseerde gereg as voorbeeld. Wanneer die die vleis gestowe word, word dit gekook saam met die sous wat dan later saam met die vleis bedien gaan word. Die vleis word baie stadig gekook in ’n vogtige omgewing wat help met die afbreek van die bindweefsel in die vleis wat dan ’n baie sagter tekstuur gee en dit heelwat smaakliker maak om te eet. Deur die proses word die natuurlike sappe van die vleis verbind met die geurmiddels in die sous en die smaak dan net verbeter.

Die gestoofde gereg kan op verskillende maniere gegeur word. Deur byvoorbeeld die byvoeging van groente of kruie, en as jy voorheen bang was vir kruie of daardie ekstra stukkie spasie in jou tuin gehad het, kan ek jou verseker dat vars kruie beslis ’n aanwins in enige kombuis is.

Die maak van ’n “bouquet garni” sal beslis ook help wanneer jy jou volgende stew maak. Wat is ’n “bouquet garni”? Ek is ek seker julle almal wonder nou. ’n “Bouquet garni” is doodeenvoudig net ’n mengsel van kruie wat toe gebind is in ’n stukkie moeselien. Die pakkie word dan gesit in die sous tydens die kookproses en die geure van die kruie word vrygestel.

Die sous word gewoonlik verdik aan die begin, tydens of na die kookproses. Afhangende van die tipe gereg wat jy maak, en soos voorheen verduidelik kan die meeste soorte kos gebruik word om stews te maak en sluit in vleis, vis, groente en vrugte.

Die proses vind gewoonlik plaas wanneer bestanddele hoofsaaklik in vloeistof gekook word. Afhangende van wat jou end gereg gaan wees sal bepaal wat se soort vloeistof gebruik gaan word, en kan die volgende insluit:

·         Stroop

’n stroop word gewoonlik gemaak wat bestaan uit water en suiker en dan gegeur word met ander speserye en kruie. Dit word gewoonlik gebruik wanneer vrugte gestoof word.

·         Wyn

Wyn maak ’n heerlike vloeistof vir die stowe van iets. Die alkohol word weggekook gedurende die kookproses en laat slegs die heerlike geure en smake van die wyn agter. Rooiwyn word dikwels gebruik saam met rooivleis.

·         Bier en sider

Dieselfde as met wyn word die alkohol weg gekook tydens die kookproses en laat slegs die heerlike geure en smake agter wat dan deur die sous opgeneem word en dien die bier en sider as die basis van die sous.

·         Sous / aftreksels

Vir die haastige kok kan selfs vooraf gemaakte souse of aftreksels gebruik word of ’n sous of aftreksel wat jy vinnig aanmekaarslaan by die huis.

Soos ons reeds elke keer gesien het wanneer ons gekyk het na ’n gaarmaakmetode, het elke gaarmaak proses sy eie unieke metode wat gepaardgaan met daardie betrokke manier van kook.

·         Verseëling

Die hoofrede is sodat jy die voedingstowwe en natuurlike vloeistowwe sal in seel en word algemeen gebruik wanneer daar gewerk word met vleis. Afhangende van wat jy weereens in jou eindproduk wil bereik sal bepaal wat jy gaan doen wanneer jy jou bestanddele gaan seel, en kan verder verdeel word.

Ø  Verseëling met kleur (verbruining)

Gewoonlik is dit die metode wat jy gaan volg wanneer jy ’n bruin stowe gereg maak. Soos uit die naam afgelei kan word, word die vleis verbruin in warm olie waartydens natuurlike smake ontwikkel. Die metode word algemeen gebruik met die verseëling van rooivleis.

Ø  Verseëling sonder kleur

Die metode verwys na ’n wit stew. Die vleis word geplaas in matig verhitte olie wat steeds gaan help met die verseëling, terwyl die natuurlike geure en die natuurlike vloeistowwe binne vasgevang word, maar die vleis nie verbruin nie. Die metode word algemeen gebruik met die verseëling van hoender.

·         Blansjeer en verfris

Weereens gaan dit afhang van die gereg wat jy maak. Die vleis word geplaas in koue water, wat dan tot kookpunt gebring word. Daarna word die vleis verwyder en onder koue water geplaas sodat alle onsuiwerhede uit die vleis gewas kan word, waarna die vleis dan gereed is vir die hoof kookproses.

·         Byvoeging van vloeistof.

Die vloeistof kan op verskillende tydstippe geplaas word by die gereg. In sommige gevalle sal die bestanddele gekook word in die vloeistof, waarna dit dan verwyder word en die vloeistof verdik word en weer heel aan die einde bygevoeg word.

Weereens is daar ’n paar tegnieke wat gaan bydra to ’n verbeterde eindproduk.

·         Afskepping / Afskuiming

Tydens die kookproses kom onsuiwerhede, olies en vette na die oppervlak van die vloeistof. Dit is belangrik om die onsuiwerhede af te skep sodat dit nie weer sal terug kook in die sous en die eindresultaat sal benadeel en selfs ’n vetterige smaak aan die sous sal gee nie.

·         Dreinering

Deur dreinering word die tekstuur van die sous bepaal. Jy kan die vleis en groente uit die sous verwyder waarna die sous deur ’n sif gooi word sodat slegs die suiwer vloeistof sal deurgaan en alle soliede stukkies sal agter bly. Die sous kan dan tot die regte vlak verdik word en die smaak aangepas word na wat verlang word. Nadat dit als gedoen is word die vleis en groente weer in die sous geplaas en bedien.

·         Vermindering

Deur gebruik te maak van die tegniek word die sous natuurlik verdik en die smaak sal baie meer intens word. Die sous word geplaas op ’n baie warm stoof en vinnig verhitte sodat dit vinnig sal kook.

Dit is baie belangrik om te onthou dat jy nie die vloeistof moet geur voordat jy met die prose begin nie, omdat die vloeistof sal verminder terwyl die smaak van jou geurmiddels dieselfde sal bly en ’n baie sterk smaak aan die sous sal gee.

·         Verryking van ’n wit stowe gereg

Jy kan eierwit of room by die sous voeg om dit te verdik. Gebruik eers ’n bietjie van die sous en meng dit by die eierwit of room, waarna jy dan die mengsel terug by die sous gooi. Onthou altyd dat dit heel aan die einde van die kookproses gedoen moet word sodat die sous nie weer sal kook nie. Dit sal ’n roereier tekstuur geen indien die sous weer kook en die sous bederf.

Gestoofde Beesvleis

3 e olyfolie

1 groot ui, in ringe gesny

2 wortels, in blokkies gesny

1 selery, in blokkies gesny

30 g koekmeel

3 e paprika

900 g beesvleisblokkies

2 e tamatiepuree

250 mℓ rooiwyn

450 ml bees aftreksel

1 t gedroogde tiemie

1 lourierblaar

3 medium aartappels in blokkies gesny

85 g sampioene

Metode:

1.       Verhit die oond to 190 ̊C

2.       Verhit helfte van die olie in ’n groot genoeg pot waarin jy die uie, wortels en selery braai totdat dit sag is. Verwyder dan vanuit die kastrol en hou eenkant.

3.       Meng die meel en paprika saam en meng met die blokkies vleis. Die beste metode hiervoor is deur die beesvleis in ’n plastieksak te plaas. Die gemengde meel en paprika dan oor te strooi en die sak goed te skud.

4.       Verhit die oorblywende helfte van die olie en voeg die blokkies vleis by terwyl jy dit braai tot bruin aan alle kante. Dit verseël die vleis en hou alle natuurlike sappe en geure binne.

5.       Voeg nou die groente by die vleis en meng die tamatiepuree, rooiwyn, aftreksel, kruie, sout en peper by en verhit to kookpunt.

6.       Voeg die aartappels by en bedek met ’n deksel.

7.       Plaas die bak in die oond en laat kook vir 1 uur teen 190 ̊C.

8.       Voeg nou die sampioene by en kook verder totdat die vleis baie sag is.

9.       Bedien met reis of groente en heerlik varsgebakte brood.

Hoender kerrie 

2 t olyfolie

1 ui gekap

1 Groen en Rooi soetrissie, sade verwyder en in blokkies gesny

1 knoffelhuisie gekneus en fyngekap

1 ½ t kerrie poeier (afhangende van hoe sterk jy die kerrie wil maak)

½ t droë tiemie

1 (450 g) blik tamaties

2 t suurlemoensap

120 mℓ  water

55 g rosyntjies

Sout en peper na smaak

1.5 kg hoender in ongeveer 8 stukkies gesny en vel verwyder.

Metode:

1.       Voorverhit die oond to 180 ̊C

2.       Braai die ui, soetrissies en knoffel saam terwyl jy dit roer to sag

3.       Roer die kerrie poeier en tiemie by en voeg dan die tamatie, suurlemoensap en water by terwyl dit tot by kookpunt verhit word.

4.       Roer nou die rosyntjies by en geur met sout en peper na smaak.

5.       Plaas die hoender in een laag in ’n oondbak en bedek met die sous. Sit die deksel op en bak in die oond vir ongeveer 40 minute of tot gaar.

6.       Dit is belangrik on die hoenderstukkies gedurende die kookproses te draai sodat dit egalig sal kook en die geure van die sous opneem.

7.       Bedien met gekookte rys.

Gestoofde droëvrugte

675 g gedroogde vrugte

8 koppies water

8 heel naeltjies

2 kaneel stokkies

Suurlemoenskil

1 koppies suiker (kan aanpas na smaak)

Metode:

1.       Voeg al die bestanddele saam en kook bedek vir ongeveer 20 minute of totdat sous verdik het en die vrugte sag is.

2.       Roer van tyd tot tyd sodat dit nie sal aanbrand nie.

3.       Jy kan dit vinnig afkoel in yswater en in die yskas hou vir ongeveer ’n week.

Dit is heerlik as ontbyt of self ’n nagereg bedien met vla.

Ek hoop dat julle die week se stukkie net so baie geniet het soos ek.

Die Paasnaweek lê voor en die meeste van ons gaan op die paaie wees om so bietjie weg te breek.

Ry versigtige en geniet die blaaskans.

Kook liefde

Die Vet Sjef.


 

No comments:

Post a Comment